Trek aan die baadjie van verantwoordelikheid

Geskryf deur:  Ilze Ferguson

‘n Mens se agtergrond en opvoeding dra by tot wie ons is, mààr wat ons word is ons eie verantwoordelikheid.

Die kleur blou verteenwoordig verantwoordelikheid, selfbeheersing, keuses en besluite.

Verantwoordelikheid is die verpligting wat op ons skouers rus, om ’n gegewe taak wat aan ons toevertrou en opgedra is na die beste van ons vermoë uit te voer, of te verseker dat die taak voltooi is.  Verantwoordelikheid is die verpligting om rekenskap te kan gee.  Mense wat verantwoordelik is, is betroubaar.

Wat gaan gepaard met verantwoordelikheid?

  • Hou myself en my omgewing skoon en netjies.
  • Wees betyds.
  • Wees verantwoordelik vir ons dade.
  • Dink voor ons doen.
  • Doen ons plig as ouers, vriend/vriendin, maatjie, kollegas en as mense.
  • Wees verantwoordelik vir ons woorde.
  • Pas ons besittings op al is dit net aardse dinge.
  • Wees verantwoordelik vir ons eie geluk.
  • Wees ‘n voorbeeld vir ander en stel die standaard.
  • Volg jou innerlike wysheid.
  • Dit is ons verantwoordelikheid om die regte ding te doen al is dit teenstrydig met die druk wat somtyds deur die samelewing na ons kant toe gegooi word.

Soveel meer wat ons kan doen om verantwoordelik te kan wees.

Daar is nie een spesifieke ouderdom wanneer mens veranwoordelik raak nie, mens leer dit geleidelik aan, maar ‘n kind se vermoë om met ander saam te werk begin wanneer hulle omtrent vyftien maande oud is en teen agtien maande wil hul graag help om dinge te doen.  Laat hulle toe om behulpsaam te wees want dit is deel van verantwoordelikheid.  Dit is belangrik om goeie gedrag soos verantwoordelikheid te prys en erkenning te gee want dit beteken baie vir ‘n kind en soms vir grootmense ook. Party ouers dink die kinders is so besig met huiswerk dat daar nie tyd is om vir hulle takies te gee om af te handel nie, maar kinders wat takies het om te doen sal waarskynlik beter doen op skool omdat hulle leer om toewysings te aanvaar en te voltooi.

In Hebreërs 10:24-25 sê die woord:  “Die liggaam van Christus is afhanklik van mekaar en elkeen van ons het ‘n plig en verantwoordelikheid om mekaar op te bou.”  Jakobus verwys ook na verantwoordelikheid as hy sê:  “bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word as mens”.

God se opdrag  rondom verantwoordelikheid gaan nie net oor diè wat in staat is om verantwoordelik te wees nie, maar dit gaan juis daaroor dat ons verantwoordelikheid sal deel aan hulle wat dit die meeste nodig het.

Verantwoordelikheid het groot waarde in die geveg om sonde te oorwin.  Verantwoordelike mense kan daar wees om ons te bemoedig en te oortuig om verantwoordelik te wees.  Kom ons vra onsself, hoe lyk die baadjie wat ons aantrek?  Is dit vol geborduur met dinge soos verantwoordelikheid teenoor ons Liewe Vader, teenoor ander en teenoor ons lewens?  Kan mens die pêrels van verantwoordelikheid in ons lewens sien skitter?  Trek aan die baadjie net soos ons die wapenrusting van God moet aantrek en wees verantwoordelik.

V – vasbyt
E – ervaar
R – regverdig
A – aanhou
N – netheid
T – tevrede
W – woorde
O – ons
O – oorwin
R – raad
D – deelname
E – eerlik
L – leer
I – inspireer
K – keuses
H – hoop
E – ek
I – integriteit
D – dankbaarheid

Related Posts

Gesonde kos vir ‘n goeie immuunsisteem

Gesonde kos vir ‘n goeie immuunsisteem

Saamgestel deur:  Ilidia Lambrechts en Lila Oberholzer Geregistreerde Dieetkundiges - Augustus 2020 Alle skoolgaande kinders benodig ‘n gebalanseerde dieet vir optimale groei, ontwikkeling, konsentrasie, prestasievermoë en, veral nou met Covid-19, 'n sterk immuniteit....